Gesels met tieners oor gesonde aanlyn interaksies


Die internet is die ‘regte lewe’

Wanneer mense van aangesig tot aangesig met mekaar praat, kan hulle sosiale tekens gebruik, soos om hul stemtoon of gesigsuitdrukkings te verander. Wanneer mense aanlyn met mekaar interaksie het, ontbreek hierdie tekens soms, wat kan lei tot gevoelens van angs of kwetsing as mense mekaar verkeerd verstaan.

Dit is hoekom almal – en veral jongmense – soms leiding nodig het oor hoe om die ingewikkelde wêreld van interaksie wat hulle aanlyn teëkom, te navigeer. Ouers kan hul tieners help om vaardighede te ontwikkel wat hulle nodig het vir goeie uitkomste wanneer hulle die internet of sosiale media gebruik. Hulle kan ook hul tieners help om veerkragtigheid te ontwikkel, sodat hulle kan aanbeweeg ná negatiewe interaksies, wanneer hulle (dalk onvermydelik) wel voorkom.

Die belangrikste is om die gesprek met jou tieners oop te hou. Hulle moet weet hulle kan na jou toe kom en vra vir hulp. En wanneer hulle dit doen, is daar baie maniere waarop jy kan help. Dit begin deur te luister, en van daar af om hulle te help om die konteks te verstaan.

Aanlyn interaksies en veerkragtigheid bou

Deur die gesprekslyne oop te hou, kan jy jou tiener help om te verstaan dat die goue reël steeds van toepassing is, o fit nou aanlyn of vanlyn is: behandel ander mense soos jy behandel wil word.

Of jy met iemand praat, vir hulle ’n direkte boodskap stuur, ’n brief skryf of ’n opmerking op hul blad plaas, die emosionele impak bly dikwels dieselfde. Jy kan iemand se dag maak met ’n vriendelike opmerking, of hul gevoelens seermaak met ’n belediging.

Ouers het hier ’n spesiale verantwoordelikheid. As jou tiener ’n negatiewe of driftige interaksie aanlyn ervaar, kan jy hulle help deur ingelig te bly oor wat gebeur het en hulle help om ’n pad vorentoe te vind. Vind uit wat jy kan oor hul ervaring, verklaar hulle gevoelens as geldig en kyk of hulle wil gesels oor ’n reaksie wat moontlik tot ’n goeie uitkoms kan lei.

Dit is alles deel van die kweek van veerkragtigheid – die vermoë om op te staan en weer aan te gaan nadat iets onaangenaams gebeur het.

Hou die gesprek aan die gang

Om tieners en jong mense te help om positiewe interaksies aanlyn te kweek, kan ’n lang proses wees wat baie gesprekke oor ’n verloop van tyd verg. As jy gesprekbeginners nodig het, dink aan onderwerpe soos:

  • Ek is baie lief vir jou en soms is ek bekommerd oor wat jy aanlyn moet hanteer. Kan ons gesels oor maniere wat jou kan help hoe om te reageer?
  • Verduidelik vir my die verloop van ’n onlangse interaksie wat jy aanlyn ervaar het.
  • Wanneer het dit jou ontstel en hoekom?
  • Dit is heeltemal in orde om hartseer te voel as hartseer goed gebeur, en om sleg te voel as slegte goed gebeur. Hoe kan ons die manier waarop ons die internet en sosiale media gebruik, verander om dinge volgende keer beter te maak?

Soortgelyke onderwerpe

Wil jy 'n ander land of streek kies om inhoud kenmerkend vir jou ligging te sien?
Verander