Justin W. Patchin en Sameer Hinduja
Hoe evalueer ons die egtheid van inligting wat aanlyn aangebied word? En hoe leer ons ons tieners om dit ook te doen? Die idees wat hier onder bespreek word, fokus op die konsep van mediageletterdheid, wat ons vermoë is om die akkuraatheid en geldigheid te evalueer van die media wat ons gebruik. Mediageletterdheidsvaardighede is vandag meer belangrik as ooit tevore. Daar is ’n massiewe stroom van inligting aanlyn, en sonder kritiese evaluasienutsgoed is dit maklik om oorweldig, deurmekaar of mislei te voel. Enigiemand kan enige tyd amper enigiets aanlyn plaas. Na gelang van waar jou tiener hul inligting kry, kan daar baie min beperkings of gehaltekontroles wees oor wat op ons webblaaiers of sosialemediastroom verskyn. Dit is essensieel dat ons, as verantwoordelike burgers, ons vaardighede van kritiese denke en ontleding gebruik om die geldigheid van die inhoud wat ons gebruik, te evalueer, veral as ons dit met ander wil deel. Hier volg strategieë wat jy en jou tiener kan gebruik wat kan help om inhoud en bewerings wat aanlyn gemaak word, te evalueer.
As jy ’n storie teëkom wat byna ongelooflik is, raadpleeg ’n feitekontrolewebwerf. Daar is baie webwerwe wat spesifiek fokus op die verifiëring van aanlyn stories, om skelmstreke te ontbloot, en om die oorsprong en egtheid van bewerings na te vors. Hierdie webwerwe is nie noodwendig perfek nie. Maar dis ’n beginpunt aangesien hulle dikwels vinnig inligting opdateer oor ontluikende aanlyn bewerings. Die beste werwe is goed daarmee om te wys waar hulle feite vandaan kom en hulle word nie maklik verkeerd bewys nie. Om een of meer van hierdie werwe te raadpleeg, kan ’n maklike en vinnige manier wees om te bepaal of ’n storie of feit wat aanlyn gedeel is, waar is, of jou ten minste te laat weet of daar enige ooglopende teenstrydighede is.
Dit is ook belangrik om te onderskei tussen nuusrapportering en redaksionele artikels wanneer aanlyn inhoud geëvalueer word. “Nuusrapportering” behels die stel van bekende feite, sonder bykomende kommentaar. “Redaksionele artikels”, daarteenoor, betrek ontleding en opinie by die aanbied van die feite. Daar is niks verkeerd daarmee nie – dit kan ons help om konteks en gekompliseerde inligting beter te verstaan. Ons moet egter weet wanneer ons dit sien. Jy en jou tiener kan saam die inligting ondersoek, asook die gesag van die persoon wat dit geskryf het, en besluit hoe geloofwaardig dit is. Wat is die geskiedenis van daardie persoon se akkuraatheid? Is hulle in die verlede verkeerd bewys? Indien wel, hoe het hulle gereageer? Wat kan die persoon/bron verloor of wen deur dit wat hulle sê?
Jy moet verstaan dat ons almal geneig is, soms in ons onderbewussyn, om sekere goed eerder as ander te glo. Dit word kognitiewe vooroordele genoem. Sielkundige navorsing toon byvoorbeeld dat mense geneig is om die eerste stukkie inligting wat hulle oor ’n spesifieke onderwerp sien, te glo. Dit maak dit moeiliker om ons siening te verander as ons met nuwe inligting gekonfronteer word. Ons plaas ook graag meer waarde in bronne wat in lyn is met ons bestaande oortuigings of wat dit versterk. Die gevolg is dat ons dikwels ophou om te soek na bewyse wanneer ons iets gevind het wat met ons oortuigings ooreenstem. Deel van ’n deeglike navorsingproses is om nie net te soek na bewyse wat ons siening ondersteun nie, maar om ook bewus te wees van teenstellende bewyse.
Selfs ’n sosialemediagebruiker met goeie bedoelings wat aktief bykomende inligting soek oor ’n spesifieke onderwerp, kan op die ou end toegee aan ’n ander algemene kognitiewe vooroordeel: inligtingoorlading. Ons brein kan net soveel data verwerk, en as ons dit oorweldig, kan dit die teenoorgestelde van wat ons wou hê tot gevolg hê. Ons sukkel basies om deur alles te sif om ’n standpunt in te neem. As jy byvoorbeeld te veel Amazon-resensies van TV’s lees, sal jy dalk nooit die “Koop nou”-knoppie druk nie. Ons het al gehoor dat mense wat dinge goed deurdink, terugval op die ou idee “Ek weet nie meer wat om te glo nie”. In sulke oomblikke kan jy jou tiener aanmoedig om ’n blaaskans te neem en later met ’n helderder kop terug te keer na die vraagstuk.
Wenke vir die evaluering van aanlyn inhoud
Daar is baie inligting aanlyn om te gebruik, te ontleed en oor op te tree. Om stellings bloot te aanvaar, kan problematies en moontlik gevaarlik wees. Om tyd te neem om alles wat beweer word goed te deurdink, is ’n noodsaaklike deel van die lewe in ’n wêreld wat deur die internet gedryf word. Op ’n stadium moet ons ’n standpunt inneem oor wie ons is en waarin ons glo, volgens alle beskikbare inligting. Met hierdie wenke kan jy en jou tiener oefen om julle oordeel te gebruik en om ’n ingeligte standpunt in te neem.