Help jongmense om beter lesers van aanlyn inhoud te wees

Die internet en sosiale media kan wonderlike bronne van inligting wees, maar dit beteken nie alles daarin is akkuraat en betroubaar nie. Om die goed van die kwaad te kan skei, moet ouers hul tieners help om hul aanlyn mediageletterdheid te bou.

Net soos volwassenes het tieners die vaardigheid nodig om te weet watter inligting geloofwaardig is en wat nie, wanneer media of prente gemanipuleer is, en om tyd af te staan aan die kweek van goeie gewoontes soos om nie goed aanlyn te deel wat nie waar is of geverifieer kan word nie.

Wenke vir die bou van mediageletterdheid

Dit is nooit maklik om sommer dadelik te weet of die inligting wat jy sien geloofwaardig is nie. Maar net soos in die vanlyn wêreld is daar ’n paar eenvoudige stappe wat jy kan neem om jong mense te help om ’n gevoel te ontwikkel vir wat akkuraat en betroubaar is en wat nie.

Kom ons begin met die eenvoudige goed: voordat hulle betrokke raak by of ’n stuk inhoud deel, help tieners om ’n paar vrae te vra wat lig kan werp op ’n stuk inhoud: vrae soos die bekende vyf W’s: Wie? Wat? Waar? Wanneer? En Waarom?

  • Wie het hierdie inhoud gedeel? Is dit iemand wat jy ken? Hoe ken jy hulle? As hulle dit vanaf ’n ander bron gedeel het, wat is daardie bron? Hoe nader jy aan die oorspronklike bron kan kom, hoe meer inligting sal jy waarskynlik daaroor kan hê.
  • Wat sê ander bronne? Voordat jy enigiets deel moet jy bietjie rondkyk en sien of jy ander agtenswaardige bronne kan kry wat dieselfde sê. Inligting waarmee saamgestem word deur ander betroubare bronne is meer waarskynlik akkuraat.
  • Waar kom dit vandaan? Nuusbronne wat ernstig is oor hul joernalistieke integriteit sal deursigtig wees oor waar hul inligting vandaan kom. Werk saam met jou tiener, gaan ’n bron se “Meer oor”-bladsy na as daar een is, en sien hoe lank hulle reeds bestaan en of hulle agtergrond jou enige rede gee om hulle te vertrou.
  • Wanneer is dit geskep? Soms word ou prente, aanhalings of stories weer aangewend op nuwe maniere, wat lei tot die verspreiding van misleidende inligting. As jy weet wanneer iets oorspronklik gemaak is, gee dit jou konteks daaroor wat effens meer inligting bied oor die geloofwaardigheid.
  • Hoekom is dit geskep? Dink oor hoekom ’n stuk inhoud geskep en gedeel is. Sommige inhoud word bedoel om ons ingelig te hou, ander om ons te laat lag, en sommige vir geen goeie rede nie. As jy ’n gevoel kan kry vir die redes hoekom iemand ’n stuk inhoud geskep het, sal dit jou help om te weet of dit betroubaar is of nie.

Al hierdie wenke is net ’n beginpunt. Dit sal tyd neem vir tieners om ’n goeie idee te ontwikkel van watter inligting op die internet vertrou kan word. Kom in die gewoonte om tyd saam met hulle op die internet deur te bring, en lei hulle na ’n plek waar hulle hul eie oordeel kan gebruik, op hul eie, om goeie keuse te maak oor wat hulle lees, skep, by betrokke raak of aanlyn deel.

Meer maniere om te help

Bykomend daartoe om meer konteks bymekaar te maak deur die Vyf W’s te gebruik, is daar nog ’n paar stappe wat jy kan neem om tieners te help om die onafhanklike vaardighede te ontwikkel van hoe om ’n goeie mediagebruiker aanlyn te wees.

Hou die gesprek aan die gang

Mediageletterdheid begin by die huis Dis nie een keer en dan klaar nie. Dit sal tyd en moeite van die ouers neem om tieners en jongmense te help om deur die wêreld van aanlyn inligting te werk. Dit sal help as hierdie werk hulle betrek en meer soos ’n bespreking voel. Praat met hulle oor goed soos:

  • Wie volg hulle aanlyn?
  • Watter soort inhoud sien en deel hulle?
  • Watter vaardighede gebruik hulle om die materiaal wat hulle sien te evalueer?
  • Wat doen hulle as hulle inligting sien wat dalk nie betroubaar is nie?
  • Doen hulle die moeite om te dink oor ’n stuk inhoud voordat hulle dit deel?

Oefeninge in mediageletterdheid

Hier is ’n oefening wat jy saam met jou tiener kan doen oor hoe om geloofwaardige bronne te vind. Hierdie aktiwiteit sal jou help om te oefen hoe om bronne en inligting wat jy aanlyn vind te verifieer.

  • Probeer om te gaan na ’n webwerf of platform wat jy of jou tiener gebruik om inligting te kry.
  • Kies ’n artikel, blog, video of ander stuk inhoud met inligting om saam te bekyk.
  • Vra die Wie? Wat? Waar? Waarom? oor daardie inhoud en bou ’n raamwerk oor hoe om geloofwaardige inhoud te herken.

Dit is iets wat julle saam kan en behoort te doen.

Dit sal tyd neem, maar met ’n bietjie oefening en jou ondersteuning sal jou tiener die tipes vaardighede aanleer wat nodig is om krities te dink oor die inligting wat hulle aanlyn sien en help om die verspreiding van misleidende inligting te stop.

Soortgelyke onderwerpe

Wil jy 'n ander land of streek kies om inhoud kenmerkend vir jou ligging te sien?
Verander