Bestuur aanlyn verhoudings

ParentZone

Dit is onvermydelik dat jou tiener op een of ander tydstip probleme met ’n vriendskap sal ervaar, óf dit uitsluitend aanlyn is óf ’n gemengde aanlyn-vanlyn verhouding.


Of dit nou ’n eenvoudige uitval was of ’n meer komplekse, morsige en emosionele beëindiging van die verhouding, oorweeg die volgende: vanaf jou aanvanklike reaksie tot waar jy hulle help om positief aan te beweeg.

Respekteer aanlyn verhoudings

Alle vriendskappe en verhoudings kom van tyd tot tyd voor uitdagings te staan. Selfs al is die verhoudings net aanlyn, is dit ook egte verhoudings.

Verhoudings wat net aanlyn is kan vir jou tiener net so belangrik wees as die mense wat hulle by die skool of oor naweke sien. Probeer om hierdie vriende as sodanig te respekteer.

Tree positief op

Wanneer jy uitvind dat jou tiener iemand op Instagram geblokkeer of gerapporteer het, kan dit byvoorbeeld ’n eerste teken vir jou wees dat iets verkeerd gegaan het. Maar dit kan ook ’n teken wees dat iets reg loop.

Die goeie nuus is: as hulle iemand gerapporteer of geblokkeer het, is dit ’n positiewe handeling. Dit wys hul het selfbewussyn en vertroue om die beskikbare nutsgoed te gebruik om hulself te beskerm.

Dit is natuurlik om in te wil storm en te wil uitvind wat gebeur het, en hoekom. Dit is egter beter om ’n gesprek te begin deur aan jou tiener erkenning te gee dat hulle positief opgetree het en hulle te vertel hoe tevrede jy is, eerder as om aan te dring op meer besonderhede.


Sy-aan-sy-oomblikke

Dit sal al jou ouerskapvaardighede verg om die regte oomblik te vind om ’n gesprek met jou tiener te begin.

Sy-aan-sy-oomblikke is daardie kosbare, ontspanne tye wanneer jy die kans het om te praat oor en te bespreek wat in hul lewens aangaan. Dit kan dalk wees terwyl julle kosmaak of in die kar op pad êrens heen is. Jy sal weet wanneer dit die regte tyd is om die onderwerp sagkens te opper.

Wat noodsaaklik is, is dat jy wag vir die oomblik om natuurlik te gebeur. Moenie probeer om dit te forseer nie, anders kan ’n gesprek meer soos ’n ondervraging voel.


Vanlyn reperkussies

Dinge raak ingewikkelder as hulle die persoon wat hulle op Instagram wil blokkeer of rapporteer in hul daaglikse lewe sien – en dalk bekommer oor die reperkussies daarvan.

As daardie persoon daarvan bewus raak dat jou tiener hulle nie meer op Instagram volg nie, kan dit dalk nie te moeilik wees om agter te kom wat gebeur het nie.

Jy kan jou tiener dalk help om te dink oor hoe hulle dit sal hanteer as die ander persoon hulle dalk konfronteer. Julle kan dalk ’n paar antwoorde saam oefen.

Vermy beskuldigende taal om te keer dat dinge vurig raak. Hulle kan dalk byvoorbeeld sinne begin met “Ek voel …” eerder as “Jy is …”.

Jou tiener kan dalk ook kies om ’n ander persoon op Instagram te beperk, eerder as om hulle te blokkeer. Dit kan hulle help om in beheer te wees van of en hoe die ander persoon met hulle interaksie kan hê – óf dit nou is om te beheer wat hulle sien óf hul opmerkings goed te keur. Lees meer hier.

Herinner jou tiener: dit mag dalk nie altyd so voorkom nie, maar om iemand op sosiale media te volg, is ’n persoonlike keuse. Wie hulle volg is hulle besluit.


Luister net

Dikwels is die beste ding wat ’n ouer kan doen om te luister. Laat hulle dit uitkry. Hulle kan uitwerk wat om volgende te doen sonder groot insette van jou af – buiten om eenvoudig daar te wees vir hulle.

Onthou: deur hulle toe te laat om hul eie foute te maak en hul eie uitdagings te oorwin, ontwikkel hulle herstelvermoë. Dit is alles deel van hoe hulle die sosiale vaardighede wat jy hulle van kleins af geleer het, op die proef stel.

Jy kan dalk vind dat jy gefrustreerd of ontsteld voel oor wat met hulle gebeur het lank nadat hulle aanbeweeg het en alles daarvan vergeet het. Die belangrike ding is om hulle in beheer te plaas, eerder as om self te probeer om oor te neem.


Beweeg aan

Vra jou tiener wat hulle volgende wil doen. ’n Nuttige vraag kan wees: is dit ’n verhouding wat hulle wil herstel?

Indien nie, moenie aanneem of verwag dat hulle vir ’n rukkie van die aanlyn spasie, of spasies, waar die verhouding plaasgevind het, gaan wegbly nie. Dit kan hulle laat voel of hulle ’n belangrike sosiale- of ondersteuningsnetwerk verloor.

Hulle moet egter nadink oor die gevolge van verdere kontak – byvoorbeeld, waar hulle moontlik sal ontmoet, of dit gaan beteken dat hulle die risiko loop om kontak met gemeenskaplike vriende te verloor.

Hulle sal in gedagte moet hou dat hulle dalk nie iemand heeltemal kan vermy nie. Dit is ’n moeilike situasie, veral as emosies steeds hoog loop.

Maar jy kan steeds daar wees vir hulle. Jy kan hulle help om ’n plan te maak oor wat hulle wil doen – en om dit deur te voer, hetsy dit beteken om sekere vriende of groepe af te sny. Dit kan dalk aanvaarbaar wees om aanlyn spasies met die ander persoon te deel – en te weet hoe hulle sal reageer

Ondersteun hulle wense om hulle te help om te voel hulle is in beheer van wat volgende gebeur – en help om ’n negatiewe ervaring in ’n positiewe ervaring te verander vir die toekoms.

Het jy meer raad nodig? Lees hier meer Gesinsentrum-artikels.

Wil jy 'n ander land of streek kies om inhoud kenmerkend vir jou ligging te sien?
Verander