Vyf maniere om ’n mediageletterde skepper te wees

NAMLE

Die mag wat tegnologie ons gee om ons kreatiwiteit te gebruik en dit met die wêreld te deel, is werklik merkwaardig. Maar, soos almal weet, gaan mag met verantwoordelikheid gepaard. Dis noodsaaklik dat ons leer om media op ’n etiese en verantwoordelike wyse te skep. Om media te skep is so maklik dat ons dikwels nie nadink oor die uitwerking van die media wat ons skep en met die wêreld deel nie.

Hier is 5 maniere om ’n mediageletterde skepper te wees:

  1. Dink oor wat die inhoud wat jy skep oor jou sê. Maak nie saak wat jy deel nie – ’n foto van jou en jou beste vriend, ’n skildery wat jy pas klaargemaak het of ’n artikel oor ’n sosiale kwessie wat jou na aan die hart lê – dit wat jy deel sê vir mense iets oor wie jy is en wat jy glo. Maak seker dat die inhoud wat jy skep, die persoon weerspieël wat jy graag wil wees.
  2. Dink oor die uitwerking wat jou inhoud op ander mense sal hê. Alles wat jy skep en deel het ’n uitwerking op die inligtinglandskap en die mense wat daardeur beweeg. Jou inhoud kan ander mense inspireer of vermaak. Jou inhoud kan mense ook aanstoot gee of ontstel. Dis belangrik om na te dink oor die uitwerking wat jy kan hê voor jy iets deel – en om te evalueer hoe jy negatiewe gevolge sou hanteer.
  3. Wees deursigtig. Wat wil jy bereik met die inhoud wat jy skep en deel? Word jy daarvoor betaal? Het ’n vriend jou gevra om dit te deel? Die rede waarom jy inhoud deel is belangrik vir jou volgers, veral as jy baie van hulle het en geld begin verdien.
  4. Moenie te veel beïnvloed word deur die getal voorkeure nie. Ons was al almal daar. Jy doen moeite om ’n foto perfek te kry en jy deel dit met trots. Dan wag jy vir ’n positiewe reaksie en dis minder as wat jy verwag het. Probeer om te fokus op die proses van skep en deel, nie die reaksie nie! Dis bitter moeilik om te beheer hoeveel mense jou inhoud sal sien en daarvan sal hou, maar jy kan beheer hoe jy daaroor voel!
  5. Verstaan redelike gebruik en kopiereg. Daar is reëls oor wat jy kan deel en hoe jy ander mense se inhoud kan hergebruik. Het jy geweet dat jy beboet kan word as jy materiaal met kopiereg sonder die kopiereghouer se toestemming gebruik? As jy ’n aktiewe inhoudskepper is, moet jy beslis vertroud wees met die reëls wat betrekking het op redelike gebruik en kopiereg.
Wil jy 'n ander land of streek kies om inhoud kenmerkend vir jou ligging te sien?
Verander