Praat met jou tieners oor om (nie) private prente te deel (nie)

Wanneer ouers met tieners praat oor private prente fokus ons gewoonlik op twee goed: om vir hulle te sê om dit nie te stuur nie, en om die ergste scenario’s voor te hou as hulle dit wel doen. Dit is waar dat dit in sommige lande onwettig kan wees om private prente te stuur. Maar hierdie benadering spreek nie die grootste probleem aan oor die stuur daarvan nie – dit kan selfs die teenoorgestelde gevolg hê. As ons net praat oor die gevare van die stuur van private prente, sê ons vir tieners wat hulle deel sonder die stuurder se toestemming dat hulle niks verkeerd doen nie. Ander tieners wat hoor wat gebeur het kan dalk ook eerder die slagoffer blameer in plaas van die persoon wat dit gedeel het.

Die goeie nuus is dat navorsing toon dat baie minder tieners private prente stuur as wat jy dalk dink – so min as een uit tien.

Wenk: Tieners noem hulle nie “private prente” nie. “Nudes” is die mees algemene woord, of net “foto’s”, sowel as ander terme.

Navorsers in Kanada het ook bevind dat meer tieners private prente ontvang het as wat hulle gestuur het, so dit lyk na ’n meer algemene aktiwiteit as wat dit werklik is. Tieners is baie sensitief vir wat hulle dink hulle vriende en eweknieë doen: as hulle dink iets is algemeen is dit meer waarskynlik dat hulle dink dit is in orde om dit ook te doen. Die belangrikste om vir ons tieners te sê is dat dit nie waar is dat “almal dit doen nie”. Jy moet ook vir hulle sê om nooit toe te laat dat enigiemand druk op hulle plaas om ’n private prent te stuur nie.

Die volgende dinge waaroor jy met jou tiener moet praat is oor wat om te doen as iemand vir hulle ’n private prent stuur. Stel dit as ’n vraag oor respek en instemming: as iemand vir jou ’n private prent stuur, het hulle ingestem dat jy dit sien, maar nie dat jy dit vir enigiemand anders wys nie.

Hoe kan ons dus ons tieners help om beter keuses te maak wanneer ’n private prent aan hulle gestuur word?

Sê eerstens vir jou tieners dat as iemand vir hulle ’n private prent stuur waarvoor hulle nie gevra het nie, moet hulle dit dadelik uitvee en óf vir die persoon sê om nie meer te stuur nie (as dit iemand is wat hulle vanlyn ken) óf die persoon daarvan blokkeer om hulle te kontak (as dit iemand is wat hulle nie ken nie of net aanlyn ken). As die persoon aanhou om vir hulle private prente te stuur, moet hulle met jou praat oor die moontlikheid om te gaan na ’n outoriteitsfiguur of volwassene wat hulle kan vertrou.

Volgende moet jy met hulle praat oor wat om te doen met private prente waarvoor hulle gevra het of bly was dat hulle dit gekry het.

Moedig hulle aan om vir hulself hierdie vrae te vra:

  • Wou die persoon in hierdie prent hê dit moes gedeel word?
  • As dit van iemand anders as die oorspronklike stuurder gekom het, het hulle toestemming gehad van die persoon wat daarin is?
  • Hoe sal ek voel as iemand iets soos dit deel wat my daarin het?

Dit gaan alles oor een eenvoudige reël: as jy nie absoluut seker is dat die persoon (of mense) in die foto wou hê dat dit gedeel moet word nie, moenie dit deel nie.

Die probleem is dat selfs met so ’n duidelik reël vind mense maklik redes hoekom dit in orde is om dit nie te volg nie. Dit word morele onttrekking genoem en kan daartoe lei dat tieners meer waarskynlik private prente sal deel.

Dit is hoekom ons buiten daardie reël die vier hoof morele-ontrekking-meganismes moet teenwerk:

Ontkenning dat die deel van ’n private prent van iemand nie skadelik is nie.

Hulle sê: “Dis niks erg om ’n kaal foto te deel as ander mense dit klaar gesien het nie.”

Jy sê: Elke keer wat jy ’n private prent van iemand deel, maak jy die persoon daarin seer. Dit maak nie saak of jy die eerste persoon is om dit te deel, of die honderdste is nie.

Die regverdiging van die deel van ’n private prent deur te sê dat dit ook ’n positiewe effek het.

Hulle sê: “As ’n meisie se prent gedeel word, wys dit ander meisies die risiko daarvan om dit te stuur.”

Jy sê: Twee verkeerdes maak niks reg nie! Daar is maniere om mense te wys dat die stuur van ’n private prent ’n slegte idee is sonder om enige iemand seer te maak. (En boonop, is dit jou werk om iemand te leer om nie private prente te stuur nie?)

Die skuif van verantwoordelikheid weg van hulself.

Hulle sê: “As ek ’n kaal prent met net een persoon deel en hy deel dit met ander mense is dit nie regtig my fout nie”.

Jy sê: As iemand vir jou ’n private prent stuur, vertrou hulle jou om dit privaat te hou. Die deel daarvan met net een ander persoon breek daardie vertroue.

Blamering van die slagoffer.

Hulle sê: “’n Meisie moenie verbaas wees as haar prente gedeel word na ’n opbreking nie.”

Jy sê: Moenie “seuns is net seuns” as ’n verskoning gebruik nie, of sê dat ’n meisie “van beter moes geweet het” nie. Daar kan baie druk wees van vriende en die portuurgroep om ’n private prent te deel wanneer jy dit ontvang, maar as iemand een vir jou stuur en jy deel dit sonder hulle toestemming, is jy skuldig.

Slagofferbeskuldiging is nog ’n rede hoekom ons daarop moet fokus om vir tieners te sê om nie private prente te deel nie, en hoekom ons nie moet probeer om tieners bang te maak oor wat kan gebeur as hulle dit wel stuur nie. Beide hierdie optredes moedig tieners aan om die stuurder te blameer in plaas van die deler. Pleks moet jy seker maak jou tiener maak altyd die regte keuses wanneer iemand vir hulle ’n private prent stuur.

Wil jy 'n ander land of streek kies om inhoud kenmerkend vir jou ligging te sien?
Verander