Diepvervalsings as ’n vorm van teistering

Sameer Hinduja en Justin W. Patchin

Sameer Hinduja en Justin W. Patchin

In die somer van 2020 het ’n 50-jarige vrou tegnologie gebruik om sommige van haar dogter se maats te teiken. Die interessantste kinkel was nie die ouderdomsverskil tussen die aggressor en die teikens nie, maar die feit dat sagteware gebruik is om prente wat aanlyn gevind is te laat lyk of die ander meisies, wat aan ’n pompommeisiegroep behoort het waar haar dogter vroeër lid was, naak was, betrokke was by minderjarige alkoholverbruik, of damprookprodukte gebruik het. Hierdie “diepvervalsings” is versprei deur teksboodskappe vanaf foonnommers wat onherkenbaar vir die meisies was en is ’n voorbeeld van ’n nuwe neiging waarvan ouers bewus moet wees.

Wat is diepvervalsings?

Die woord “diepvervalsings” (“diepleer + vals”) blyk sy oorsprong te hê toe aanlyn gebruikersgemeenskappe begin het om vals pornografie van glanspersone onder mekaar te deel. Om dit te skep, word kunsmatige-intelligensiesagteware gebruik om ongelooflik realistiese gefabriseerde inhoud (bv. foto’s en video’s) te skep wat bedoel is om werklik te lyk. Leermodelle word geskep met gebruik van rekenaarkrag om aansienlike hoeveelhede inhoud (bv. ure se videomateriaal van ’n persoon, duisende prente van ’n persoon) te ontleed met spesifieke aandag op sleutelgesigskenmerke en liggaamstaal/-posisie.

Dan word wat algoritmies geleer is toegepas op prente/rame wat mens wil manipuleer of skep (bv. om lipbewegings op oorspronklike inhoud te superponeer (en om klank oor te plaas) om dit te laat lyk of ’n persoon iets sê wat hulle werklik nooit gesê het nie). Bykomende tegnieke soos om artifakte by te voeg (soos “glitching” wat normaal of toevallig voorkom) of om maskers/wysiging te gebruik om dit meer realisties te laat lyk word gebruik, en die resulterende produkte is verbasend oortuigend. As jy ’n websoektog uitvoer vir voorbeelde van diepvervalsings, sal jy verstom wees om te sien hoe eg hulle lyk. Hier onder is ’n klompie belangrike punte waarvan jy bewus moet wees om jou kind te beveilig van enige moontlike diepvervalsingteistering, en om hulle te leer hoe om te onderskei tussen feite en fiksie.

Hoe om diepvervalsings te identifiseer

Terwyl diepvervalsings al hoe meer realisties voorkom soos tegnologie ontwikkel, verg die bespeuring daarvan dikwels net om versigtig te kyk na sekere inligting in die foto- of video-inhoud (bv. oë wat nie natuurlik knip nie). Dit kan besonder nuttig wees om in te zoem en te kyk vir onnatuurlike of dowwe rante rondom die mond, nek/kraag of borskas. Dit is dikwels waar wanbelynings en wanpassings tussen die oorspronklike inhoud en die supergeponeerde inhoud gesien kan word.

Met video’s kan mens die snit stadig laat loop en kyk vir visuele inkonsekwenthede soos moontlike lipsinkronisering of bewerigheid. Kyk verder ook vir enige oomblikke waar die persoon geen emosie wys waar daar emosie behoort te wees volgens wat gesê word nie, dalk ’n woord verkeerd uitspreek, of vir enige ander vreemde teenstrydighede. Laastens kan die loop van omgekeerde prentsoektogte op foto’s (of ’n skermskoot van ’n video) jou lei na die oorspronklike video voordat dit gedokter is. Op daardie stadium moet die twee stukke inhoud versigtig vergelyk word om te bepaal watter een gemanipuleer is. Dit kom daarop neer dat jy jou instink moet vertrou; wanneer ons rustig raak en versigtig kyk en luister, kan ons gewoonlik raaksien as iets nie reg is nie.

Dit is belangrik om tieners te herinner dat alles wat hulle aanlyn plaas gebruik kan word om diepvervalsings te skep. Hulle het waarskynlik op hul sosiale media rekeninge ’n biblioteek van inhoud geskep waartoe ander toegang het en wat ander kan manipuleer sonder hul toestemming. Hul gesig, bewegings, stem en ander karaktertrekke kan geneem word en gesuperponeer word op die beeld van iemand anders – iemand wat betrokke is by optrede wat besonder ernstige skade aan hul reputasie kan doen. Om gesprekke hieroor te fasiliteer is hier ’n paar vrae wat jy kan vra op ’n nieveroordelende en begripvolle manier:

  • Is dit moontlik dat jy sommige individue aanvaar het wat dalk, mettertyd, in ’n konflik met jou kan wees of met jou kan kompeteer?
  • Is jy al ooit seergemaak deur iemand wat jy nooit gedink het jou sal seermaak nie? Kan dit weer gebeur?
  • As nuwe volger- of vriendskapversoeke inkom, gaan jy eers hul profiel na om seker te maak hulle is eg? Kan jy hulle vertrou?
  • Is enige van jou vriende se plasings al ooit voorheen gebruik op ’n ongemagtigde manier? Kan dit moontlik met jou gebeur?

Diepvervalsings het die potensiaal om die welstand van tieners te kompromitteer as mens dink aan die emosionele, sielkundige en reputasieskade wat hulle kan veroorsaak. Alhoewel ouditiewe, visuele en tydverwante teenstrydighede nie noodwendig met die blote oog opgemerk kan word nie, word sagteware tans verfyn om enige probleem met uniformiteit in prent- of video-inhoud te identifiseer en te vlag. Soos hierdie tegnologie verder ontwikkel, moet ouers, versorgers en ander volwassenes wat by die jeug betrokke is bewustheid aanwakker oor die realiteit van diepvervalsings, en werk om die gevolge van hul skepping en verspreiding te verhoed. Herinner terselfdertyd gereeld jou tiener dat jy altyd daar is om hulle te help om ’n uitkoms uit hul diepvervalsingsituasie te vind (en natuurlik enige ander aanlyn skade wat hulle ervaar).

Soortgelyke onderwerpe

Wil jy 'n ander land of streek kies om inhoud kenmerkend vir jou ligging te sien?
Verander